Kritiek kom teen Merkel van voorganger

Die voormalige kanselier van Duitsland, Gerhard Schröder, het die blaam vir die huidige ineenstorting van die regerende Christen Demokrate Unie(CDU) vierkantig voor die deur van Bondskanselier Angela Merkel gelê.

Merkel was vasbeslote om haar beste ondersteuner, Annegret Kramp-Karrenbauer, as opvolger verkies te kry, en daarin het sy tydelik geslaag, maar nou het die dame haar bedanking aangekondig.

Gerhard Schröder  het sy harde kritiek die week uitgespreek en gesê die besluit om as kanselier aan te bly terwyl sy reeds onttrek het as leier van die CDU in 2018, is die groot rede vir die huidige krisis in die party.

Hy sê Merkel het m “fatale fout” begaan daardeur, veral in die lig van die verrassende besluit van Annegret Kramp-Karrenbauer, om te bedank van haar amp as leier van die party en ook te onttrek van die veldtog van 2021.

Schröder het sy tevredenheid uitgespreek met die kandidatuur van Armin Laschet, ’n gewilde leier in een van die deelstate, wat ook ’n gesoute joernalis was, en voormalige lid van die Europese Parlement.