Frankryk wil verhouding met Pole herstel

President Emmanuel Macron

Die Franse president, Emmanuel Macron, het Mandag ’n besoek van twee dae gebring aan Pole in ’n poging om die bevrore verhouding te probeer herstel.

Die besoek kom nadat Brittanje die EU verlaat het op 31 Januarie, en die vermoede bestaan dat EU lidlande soos Frankryk en Duitsland bekommerd is dat Pole dieselfde weg kan volg.

Die spanning tussen leiersfigure in die EU teenoor Pole het nog nie tot rus gekom nie, en die sterk Poolse regering weier om gehoor te gee aan die uitsprake en eise wat die EU stel.

Leiers van die EU is bekommerd dat Pole ook kan besluit om die Verenigde Koninkryk se voorbeeld te volg, en as Europa se vierde grootste ekonomie kan so ’n stap lei tot die einde van die EU se bestaan.

’n Poolsee regeringswoordvoerder sê Frankryk en Pole is nie beste vriende nie, maar as die EU leiers saamwerk, kan ’n beter verhouding teweeggebring word.

Die verhouding tussen die twee lande het versuur nadat die nasionalistiese regering in Pole aan bewind gekom het en ’n $3.4 miljard transaksie vir helikopters gekanselleer het.