Duisende kamele stap deur hoofstad

Minstens drie duisend kamele het deur die strate van die Libiese hoofstad Tripoli, gestap gedurende die nagtelike ure nadat die hawe onder militêre aanvalle onderwerp is.

Die ingevoerde kamele het kort na middernag begin stap op een van die stad se snelweë onderweg na die stad Zawiya, sowat 44 km weg van die hoofstad waar hulle die volgende dag aangekom het.

’n Woordvoerder wat beheer oor die verskuiwing van die kamele het, sê diewe het op die karavaan toegeslaan gedurende die nag in die buitewyke van Tripoli en sowat 125 diere gesteel wat nie weer gevind is nie.

Veiligheidsmagte is ontplooi om te probeer voorkom dat diewe toeslaan, maar die honger diere het kort-kort weggebreek om te probeer kos soek langs die roete.