Die parlement se nuwe gesig

Die Suid-Afrikaanse parlement het ’n groot verandering ondergaan sedert die veel besproke nuwe demokrasie in 1994 tot stand gekom het.

Die dae van sterk argumente en hoë debatvoering oor belangrike sake wat die land en bevolking direk raak, het nou plek gemaak vir ’n nuwe orde.

Dit is die mening van ’n behoudende politieke ontleder wat sê die vlak van moddergooiery en aanvalle op persone, in plek van sinvolle argumente te voer oor beleidsake, is kommerwekkend, maar ook tekenend van die verteenwoordigers wat in die parlement sit.

Met die Rooi brigade en die ANC se vegters wat mekaar beskuldig van wie slaan nog sy vrou, word lokasie politiek gevoer wat tot niemand se voordeel strek nie, het hy gesê.

Die ergste van alles is waarskynlik dat dit in die buitelandse media vertoon word, en daarmee ’n beeld stuur van hoe SA werklik lyk.

Die magsvertoning wat afgespeel het tydens die parlementsitting waar die president se staatsrede gedebatteer moes word, het ontaard in ’n liederlike, derderangse getwis van persoonlike aanvalle op mekaar.