Wie sal regeer?

Dit is duidelik dat Suid-Afrika op finansiële gebied so broos geword het, dat algehele armoede, met die uitsondering van ’n klompie rykstes, gaan lei tot die noodwendige verandering in regeerders.

Wie die nuwe maghebbers sal wees, is tans ’n onderwerp wat wyd bespreek word, maar daar is ook die aanvoeling dat die ANC in beheer sal bly op nasionale vlak.

Die amptelike opposisiepartye kan ’n regering vorm as koalisie, maar in Afrika werk dit nie, en so ’n samevoeging sal slegs tydelike oplossings bied.

Dit sal egter nie oplossings bied wat Suid-Afrika weer op die suksespad sal bring nie, want nie een van die kleiner partye beskik oor die sterk leiers om die land te vrywaar van korrupsie, geldwassery, moord, en dosyne ander probleme nie.

Wie ook al die leisels by die ANC sou oorneem, sal niks beter doen as die swak regeerders van vandag nie.

Die moontlikheid van ’n eie vaderland vir die Boere-Afrikaner is die enigste uitweg om ’n goeie regering saam te stel wat met goeie oordeel die volk op elke lewensterrein sal lei na nuwe hoogtes.

Daar is een probleem: Die Boere-Afrikaners is te min om so ’n bedeling te beding, en die regeerders van die land te veel om so ’n bedeling toe te laat.

Wie ook al die land regeer, die toekoms word al donkerder, en die volk wat hierdie land opgebou het tot ’n modelstaat, se knieë het lam geword.