Vroeë verkiesing in Roemenië

Premier Ludovic Orban

Die Eerste Minister van Roemenië, Ludovic Orban, het die afgelope naweek in ’n verklaring gesê hy sal probeer om die jare lange politieke onstabiliteit uit die weg te ruim met ’n vervroegde algemene verkiesing.

Hy sê die verkiesing sal waarskynlik teen die middel van 2020 gehou word wat partye en kiesers voldoende tyd sal gun om gereed te maak daarvoor.

Die Eerste Minister se minderheidsregering het aan bewind gekom in die eerste week van November verlede jaar nadat die vorige kabinet van die Sosiaal Demokratiese Party moes bedank toe ’n geslaagde mosie van wantroue ingestel is teen die regeerders.

Intussen het die Europese Unie sy kommer uitgespreek oor die lidland wat afwyk van reg en geregtigheid wat die moontlikheid van buitelandse beleggings benadeel.

Die moontlikheid van ’n vervroegde algemene verkiesing kan egter eers werklikheid word nadat die parlement sy goedkeuring gegee het.