Uit my Kuierkombuis

Na die Desember vakansie is die koekie- en beskuitblikke nou behoorlik leeg!  Vandag gaan ons ‘n heerlike growwe beskuit bak wat vroegoggend saam met die eerste beker koffie of ……… agtermiddag genuttig kan word. Die lynsaad gee dit ‘n heerlike neutagtige geur.

GROWWE BESKUIT MET KLAPPER
(geen eiers)
SMELT SAAM:
500g botter

500 ml witsuiker

10 ml bruin asyn

Koel af met:

500 ml karringmelk of 500ml volroommelk aangesuur met 40ml witasyn

MENG SAAM:
750 ml koekmeelblom
4 blokkies nutrifix, fyngemaak
375 ml  semels
500 ml hawermout
750 ml nutty wheat
10 ml koeksoda
50ml bakpoeier (10 teelepels)
5 ml sout
375 ml  klapper
250 ml lynsaad

 METODE:

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer of bespuit met kleefwerende kossproei twee 37cm bakplate.

1.  Smelt die botter, suiker en bruin asyn op die stoof of in die mikrogolfoond.  Meng karringmelk of aangesuurde melk by gesmelte botter/suiker en hou solank eenkant.
2.  Meng al die droё bestanddele. Gebruik ‘n bolvormige draadklopper om die bestanddele eweredig deur te meng. …. en meng die melk en bottermengsel daarby. Meng goed deur en deel in twee in die mengbak.  U sal sien dat die deeg effens klewerig is,  maar sodra jy dit in die panne druk,  is dit hanteerbaar.  Smeer bietjie botter/olie aan jou hande voordat jy die deeg in die panne vasdruk.

3.  Druk met hande in twee 37cm bakplate. (Ek gebruik klein koekroller wat presies in my panne pas om die deeg eweredig plat te maak.

4.  Indien u nie ‘n beskuitpan met sy eie beskuit afdrukstuk gebruik nie,  kan u ‘n    skoon liniaal gebruik om eers die beskuitvingers in hul lengte in die pan af te druk en daarna in die verlangde grootte in die dwarste af te druk.
5.  Bak in oond van 180°C vir 10 min.

6.  Stel oond af na 160°C en bak vir verdere 20 min.

7.  Sny met mes deur sodra uit die oond kom op die afgedrukte lyntjies, keer uit op ‘n skinkbord en pak terug in die oond.

7.  Droog uit in oond by 100°C oornag of vir so ongeveer 6 ure.

(Ekstra bygevoeg ……….. ½ kop sultanas by een helfte van die deeg.)

Geniet ‘n stukkie beskuit saam met ‘n koppie boeretroos!