Uit my Kuierkombuis

My tannie kon altyd die lekkerste sagopoeding maak.  Alhoewel ek ook ‘n paar keer dit gemaak het,   was ek op die uitkyk vir ‘n sagoresep wat sommer so vinnig-vinnig gemaak kan word sonder te veel van ‘n staan en roer by die stoof.  Met die tegnologie van vandag,  is die sakie sommer maklik gemaak en het ‘n vriendin van my Ma ‘n paar jaar gelede sagopoeding in haar mikrogolf gemaak.  Deesdae is daar sommer ‘n verskeidenheid resepte vir sago wat in die mikrogolf gemaak kan word.

Mikrogolf sagopoeding

(Genoeg vir 6 tot 8 porsies)

Bestanddele:

1 liter melk                     

250ml  sagokorrels

60ml botter                     

4 ekstragroot eiers, geskei

160ml witsuiker              

5 ml vanielje geursel

2,5ml sout

appelkooskonfyt

fyn kaneel

Metode:

  1. Plaas die melk, sago en botter in ‘n groot glasbak (± 4 liter volume),  en mikrogolf oop  teen 100% krag vir 10 minute en  roer gereeld deur.
  2. Kook vir verdere 5 minute by 50% krag en roer elke 2 minute.  U sal sien dat die mengsel begin verdik en meer word.  (Daarom die groter bak sodat dit nie oorkook nie.)
  3. Klits die eiergele, suiker, sout en vanielje geursel saam en roer dit vinnig mbv ‘n balklitser by die warm sagomengsel in.
  4. Mikrogolf die mengsel nou vir 2 minute by 100% krag.
  5. Roer die sago liggies deur, klits die eierwitte tot styf maar nie droog nie en vou die styfgeklopte eierwit in die warm mengsel in.
  6. Skep die mengsel in ‘n glasbak (volume van 4 – 5 liter) en skep teelepels vol appelkooskonfyt so hier en daar in die beslag. Rond die nagereg af met ‘n strooisel kaneel.
  7. Mikrogolf die nagereg vir ‘n verdere 3 minute oop by 70% krag en sit warm voor.

Die nagereg kan verder afgerond word met ‘n draaitjie room,  maar die kaneel en appelkooskonfyt wat reeds by die nagereg gevoeg is,  sorg vir genoeg geur!  Vir die regte soettande,  kan bietjie heuning of stroop ook ekstra bygevoeg word.

So maklik om te maak …………. sorg net dat daar altyd ‘n pakkie sago in die koskas is!