Uit my Kuierkombuis

Na al die lekker eet van die afgelope Desember vakansie,   probeer ons dit bietjie rustiger vat agter die kospotte.  ‘n Resep wat ek graag nader trek,  word gemaak met ‘n blikkie gevlokte (fyngesnyde) goeie gehalte boeliebief (ingemaakte soutvleis), ontbytspeksnippers en ingelegde pikanterissie respies.  Indien u nie pikante rissie  repies kry nie,  kry ‘n botteltjie ingelegde pikante rissies,  en sny dit net in snippers.  (Die handelsnaam – Peppadews).  Ek het so ‘n paar plante aan die groei in my agtertuin wat een van die dae gaan ryp word. (Hulle groei welig en saai hulself elke jaar!)  Dit is nou nie die tipiese peppadew nie,  maar ‘n klokkievormige weergawe.  Die pitjies brand warm,  maar die rooi doppie is heerlik wanneer dit ingemaak is in ‘n soet-suur stropie.

Boeliebiefgereg met pikante rissies

Bestanddele:
4 Snye brood liggies gesmeer met botter
Bietjie olie
1 Groot ui, gekap
250 g  ontbyt spek snippers
250 ml ingemaakte pikante rissie repies
300 g (1 blikkie) goeie gehalte soutvleis, fyn gemaak (of gesny in klein blokkies)

5ml kerrie
5 ml  borrie
30 ml vars pietersielie, gekap
45 ml vrugte/perske blatjang
4 eiers
125 ml melk
250 ml cheddarkaas, grof gerasper (helfte in die beslag)

Metode:

**  Voorverhit die  oond tot 180°C en smeer of bespuit met kleefwerende middel ‘n vierkantige oondvaste bak. (waarin die 4 snye brood netjies pas)

1.   Verhit die olie in ‘n swaarboompan en soteer die gekapte ui tot sag en deurskynend.

2.  Voeg spek by en roerbraai tot gaar.

3.   Voeg ingemaakte pikante rissie repies by en roerbraai verder.

4.  Verwyder pan van hitte en roer soutvleis, kerrie, borrie, pietersielie, helfte van die kaas en blatjang by.

5.   Plaas die 4 gesmeerde  snye brood in die vierkantige gesmeerde oondbak en skep soutvleismengsel  bo-op.

6.  Maak bokant gelyk. Klits melk en eiers en giet dit oor die gereg.

7.  Versprei die res van die  gerasperde kaas bo-oor.

8.  Bak 30 min of totdat die  kaas bo-op goudbruin is.

Garneer met gesnipperde vars pietersielie en bedien dit saam met wortel- en beetslaai.