Turkye speel met vuur in Libië

Die besluit van Turkye om van sy soldate na die burgeroorlog geteisterde Libië te stuur, is deur verskeie lande skerp gekritiseer en sê die Turkse regering speel met vuur.

Die teenwoordigheid van Turkse troepe in die Noord-Afrika staat sal die konflik verder verhoog tussen burgerlike en regeringsmagte.

Ditt is die mening van minstens drie lande wat ’n gesamentlike verklaring uitgereik het om hulle ontevredenheid te kenne te gee met die optrede van Turkye.

In die gesamentlike verklaring wat deur Griekeland, Israel en Cyprus uitgereik is, sê die lande so ’n stap van Turkye is ’n ernstige ondermyning van die internasionale gemeenskap se pogings om ’n vreedsame oplossing vir die konflik te vind.

Die Turkse parlement het met ’n oorweldigende meerderheid ten gunste van die besluit om troepe na Libië te stuur, gestem.

Eerste Minister Fayez al-Serraj van Libie het in November ’n ooreenkoms met Turkye aangegaan dat die land van die Turkse regerings samewerking sal kry op die militêre en veiligheid terreine.