Rammelende vulkaan sluit hoofstad

Skole, sakesentrums, staatsdiens kantore en ander instansies het rgoor die hele hoofstad van die Filippyne hulle deure gesluit uit vrees vir ’n massiewe vulkaniese uitbarsting terwyl swaar rook en as wolke oor die stad hang.

 Seismologiese waarskuwings lui dat massiewe onderbrekings van water en krag toevoer enige oomblik verwag kan word as die vulkaan verder tot uitbarsting sou kom.

Waarskuwings is per radio en televisie gerig tot die inwoners dat ’n uitbarsting enige oomblik verwag word, en dat mense hulle voorbereidings moet afhandel.

Die gevaar is so groot dat deskundiges meen ’n uitbarsting kan so hewig wees dat dit tot ’n massiewe tsoenami kan lei.

Duisende mense is beveel om onverwyld hulle woonplekke te verlaat uit vrees vir ’n uitbarsting van die wêreld se kleinste lewendige vulkaan.

Vir ’n derde agtereenvolgende dag het as en rook uit die krater gebars wat in die middel van ’n meer is, sowat 70 kilometer ten suide van die sentrale deel van Manila.

Sowat 25,000 mense is reeds uit die stad weggeneem na veiliger gebiede, maar die paniek en vrees vir ’n massiewe uitbarsting hang swaar oor die stad.