Motor rubriek – Mazda CX-5 2.2 De Akera AWD Auto

Mazda produkte was nog altyd een van my persoonlike voorkeure. Van die vroegste jare af, wanneer die geleentheid dit voorgedoen het, is dit geneem of vir ‘n toetsrit of sommer net van naderby beskou.

Tydens ‘n besoek aan die naaste Mazda handelaar was die veranderings wat aan die nuutste Mazda CX-5 aangebring is duidelik sigbaar met eerste oogopslag. Van voor gesien sorg die chroomstrook aan die onderkant van die sierrooster dat dit duidelik sigbaar is met die Mazda embleem gepas in die middel. Van die veranderings wat aangebring is, is LED hoofligte en ook kolligte. ‘n Belangrike veiligheids aspek is die hoofligte wat outomaties verstel word wanneer daar byvoorbeeld swaar goedere gelaai word. ‘n ABS remstelsel met al die nodige hulpmiddels sorg dat die voertuig met veiligheid tot stilstand kan kom.

Die grondvry hoogte is 185 mm en rowwe grondpaaie kan met gemak aangepak word. Op die snelweg en ander teer paaie is dit ‘n plesier om die sportnuts voertuig te bestuur en die beproefde MacPherson-stut voor veerstelsel en die Multi – link agter veerstelsel sorg dat padgedrag van hoogstaande gehalte is. Die permanente dryfstelsel en ses spoed outomatiese ratkas sorg dat die voertuig tot sy volle reg kom.

Die stillering van die CX-5 is, nadat die dak se vorm so effe aangepas is, meer sportief en met die sykante wat ook aangepas is, skep dit nie net die indruk dat dit ‘n soliede voertuig is nie maar dit is ook solied. Die sykant spieëls is wegvoubaar en is dieselfde kleur as die bakwerk geverf. Nuwe 17 duim allooi wielnawe in mat afwerking sorg dat die syaansig dadelik aandag trek en plastiek beskerming in die wielboë sorg dat moontlike klip beskadiging beperk word tot die minimum.

Om die oopmaak van die agterste klap te vergemaklik, is daar ‘n ingeboude hulpmiddel teenwoordig en kan bagasie met min moeite gelaai word.

Wanneer die voertuig binne gegaan word is eenvoudige dog netjiese afwerking duidelik sigbaar. Deur die boonste gedeelte van die stuurwiel is die instrumente duidelik leesbaar en op die stuurwiel self is daar skakelaars gemonteer wat die toerusting mee beheer kan word. Die ingenieurs van Mazda het seker gemaak dat daar ‘n wye reeks van toerusting beskikbaar is waaronder ‘n tien luidspreker BOSE radio, Apple Carplay en Android outomatiese stelsel tel asook Mazda se SkyActive Vehicle Dynamics beweging tegnologie asook G-Vectoring beheerstelsel wat ‘n wêreld eerste is om die wringkrag van die kragbron aan te wend tot sy voordeel.

Aanpassings wat aan die sitplekke aangebring is sorg dat ‘n meer gemaklike rit kan plaasvind en wanneer die 2191 kub. sentimeter, vier silinder turbodiesel kragbron ingespan word, kom die voertuig tot sy reg. Daar is 140 kW krag beskikbaar teen 4500 o.p.m. en die wringkrag is ‘n handige 450 Nm wat beskikbaar is teen 2000 o.p.m. en volgens ineligte bronne is die brandstofverbruik 6,8 l/100 km en met ‘n brandstofhouer wat 58 liter neem is dit instaat om nagenoeg 850 kilometer af te lê voordat dit nodig is om brandstof in te gooi. Vir die agterste passasiers is daar gerieflike beenspasie en daar is in die middel konsole voorsiening gemaak vir ‘n USB prop.

Van die hulpmiddels wat beskikbaar is, is wanneer daar van lane verwissel word, ‘n waarskuwing gegee word en hulp word ook verleen om in dieselfde laan te bly. Hierdie is die ideale voertuig om byvoorbeeld ‘n wildtuin mee te gaan besoek maar moeder kan dit ook gebruik om die kinders mee skool toe te neem. Indien nodig kan die bagasie ruimte vergroot word sodat selfs die kinders se fietse gelaai kan word.

Indien u in die mark is vir ‘n sportnuts voertuig kan u gerus die Mazda CX-5 op u kortlys plaas en dit van naderby gaan besigtig. Die voertuig is beskikbaar met ‘n 3 jaar diensplan sonder afstand beperking van die kilometers afgelê.