Motor rubriek – Jeep Wrangler 3,6 AT Sahara

Wanneer daar na die geskiedenis van die kortwiel basis Jeep gekyk word, sien ‘n mens dat dit ‘n geskiedenis is wat gedurende 1941 begin het. Hierdie voertuig het vir homself  ‘n naam verwerf  tydens die 2de wêreldoorlog. Persoonlik het ek daarmee opgegroei as ‘n verbruikersvriendelike voertuig wat selfs gebruik was om mee te ploeg op die plaas. Aan die agterkant was daar ‘n krag aftak punt wat gebruik kon word om byvoorbeeld ‘n hamermeule mee aan te dryf.

Wanneer die heel nuutste Wrangler JL op ‘n afstand bekyk word lyk dit aanvanklik of daar nie enige verandering plaasgevind het nie maar van naderby beskou, besef ‘n mens dat daar aansienlike hoeveelheid veranderings aangebring is. Die sewe gleuf sierrooster verteenwoordig nog steeds die bekende Jeep waarmerk maar meer fyner detail is gegee aan die boonste gedeelte van die sierrooster wat nou teen ‘n hoek gebou is om windweerstand te verminder. Van die ander veranderings wat aangebring is die voorste windskerm wat meer na agter oorleun en die uitbouing op die enjinkap met luginlate is meer verfynd afgewerk vir minder windweerstand.

‘n Verdere verandering is dat daar nou gebruik gemaak word van LED hoofligte en die kolligte is LED ligte. Die rigtingwysers en parkeerligte is op die voorste modderskerms gemonteer en duideliker sigbaar as op die vorige JK reeks.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word, is die bekende Pentastar, 3.6 liter V6 petrol kragbron te sien en na verneem word is daar uitgebreide ontwikkelings werk aan dit gedoen met die gevolg dat daar aansienlike beter brandstof verbruik teweeg gebring is. Selfs soveel as 6% verbetering. ‘n Handige 209 kW krag is beskikbaar en die wringkrag is 347 Nm teen 4100 o.p.m. Daar het aansienlike veranderings aan die aandryfstelsel plaasgevind deur die aanbring van Jeep se TorqueFlite, agt spoed outomatiese ratkas. Dit is gebasseer op die bekende ZF ratkas en die oorskakeling daarvan vind seepglad plaas. Hierdie ratkas reageer met die minste moontlike moeite en of dit op die snelweg of op ruwe terrein gebruik word, die oorskakeling is van so ‘n aard dat dit moeilik waargeneem kan word. Op ruwe terrein is die Jeep eintlik in sy element en kan daar met gemak die moeilikste terrein betree word.

Soliede voor en agter, opgegradeerde Dana asse word nog steeds gebruik maar Jeep se Command-Trac 4WD stelsel word nou ingespan om die kragverspreiding te doen. Dit verseker, tesame met die byvoeging van die 4WD Auto uitkiesingstelsel, dat die Jeep gemaklik ‘n “kruip” beweging kan gebruik waar nodig. Elektroniese hulpmiddels word ingespan om die werk te verminder en te vergemaklik en dit is gerieflik wanneer daar byvoorbeeld nat en glibberige paaie betree word. Grondvry hoogte voor is 280 mm en agter 265 mm.

Die wielboë is uitgebou en die skarniere van die deure is aangepas en is meer stewig van aard. Dieselfde geld vir die skarniere van die agterste deur. Die noodwiel word steeds op die agterdeur gemonteer LED agterligte word gebruik. Die heg punte van die enjinkap is ook stewiger.

Dit is wanneer daar in die voertuig ingeklim word, dat daar ‘n totale verandering en vernuwing opgemerk word. Die leer bedekte stuurwiel met verskeie skakelaars op vir die beheer van toerusting, pas gerieflik in die bestuurder se hande. Alle nodige instrumente is binne maklike bereik van die bestuurder en die Uconnct, 8.4 duim aanraakskerm met talle funksies is beskikbaar. Radio, lugversorger en ‘n elle lang lys van toerusting is beskikbaar en van die instrumente wat te sien is sluit in ‘n olie temperatuur meter, water temperatuur meter, olie druk meter ensovoorts. Wat die sitplekke aanbetref is die voorste sitplekke gerieflik met die nodige verstellings vir ondersteuning vir die liggaam terwyl die agterste sitplekke maar taamlik knap is en nie so gerieflik is nie. Jeep se Freedom Top drie-stuk dak verseker dat dit verwyder kan word en sodoende kan die natuur tenvolle geniet en waardeer word.

Hierdie is ‘n voertuig vir die fynproewer en om dit eintlik tenvolle te kan waardeer, moet u u naaste Jeep handelaar besoek sodat u ingelig kan word wat alles beskikbaar is en wat alles daarmee gedoen kan word want die lys van wat alles beskikbaar is, is aansienlik lank en kan eers werklik tot sy reg kom wanneer werkverrigting, veerstelsel, remme ensovoorts onder oë geneem word. Jeep se ingenieurs het deeglik huiswerk gedoen en verseker dat hierdie ‘n voertuig is om te geniet.