Gepeupel wyk van VSA ambassade

Kort nadat die Amerikaanse regering aangekondig het dat hy 750 soldate na Irak stuur om sy burgerlikes en ambassade personeel te beskerm, het die pro-regering protesteerders wegbeweeg van die ambassade.

Die protesteerders wat selfs probeer het om die ambassade gebou aan die brand te steek, het blitsvinnig gereageer op die bevel van die paramilitêre groep om die gebied te verlaat, wetende dat Amerikaanse soldate onderweg is na Irak.

Brandskade is aangerig by die Amerikaanse ambassade in Baghdad deur die protesteerders wat beswaar gemaak het teen die VSA se lugaanval op ’n paramilitêre basis wat verantwoordelik is vir die dood van ’n Amerikaanse kontrakteur in die land.

Teen vroegaand van Donderdag het die grootste aantal optoggangers reeds die terrein verlaat, en met die aankoms van die eerste troepe uit die VSA was daar weinig te sien van die massa mense van vroeër.