Eskom beoog “permanente” beurtkrag

Die Suid-Afrikaanse kragvoorsiener het blykbaar ’n paar nuwe idees wat elektrisiteit voorsiening betref, en die een plan is meer omstrede en onaanvaarbaar as die tweede plan.

Die Eskom plan om sogenaamde “prestasie bonusse” ten bedrae van bykans R2 miljard te betaal, het woede en hewige reaksie ontlok by kragverbruikers.

Die tweede plan is ewe omstrede, want daarvolgens sal Suid-Afrika vir ’n onbepaalde tyd onderwerp word aan ’n daaglikse beurtkrag van Fase 2, wat beteken dat elke kragverbruiker vir minstens 4 uur sonder elektrisiteit sal wees.

Indien so ’n stelsel ingebring word, sal dit die ondergang van die landsekonomie verhaas, en kan daar verwag word dat menige nyweraar sy goed gaan oppak en in ’n ander land gaan vestig.