Diewe verantwoordelik vir pyplyn skade

Transnet het die blaam op diewe geplaas wat gepoog het om gedeeltes van die brandstof pyplyn tussen Durban en Johannesburg te steel.

Dit het tot gevolg gehad dat ’n brand in die pyplyn ontstaan het wat ernstige ontploffings kon veroorsaak, maar wat betyds deur die brandweer van Alberton onder beheer gebring is.

Die brand was ’n ernstige bedreiging vir sowat 45 huise in die omgewing, en mense moes dringend van die toneel weggeneem word.

Saret Knoetze van Transnet sê die pyplyn is die afgelope maande die teiken van diewe en vandale, maar die voorval op Oujaarsdag is een van die gevaarlikste wat nog toegepas is.

Transnet is nou besig met ’n ondersoek om die gevaar van die pyplyn wat gedurig gesaboteer word te bekamp vir diegene wat in die nabyheid woon. 

Swaar rookwolke het in die lug gehang waar die diewe die pyplyn, wat tans nie in gebruik is nie, beskadig het.