Die ANC se groot mislukking

Die regerende ANC het weereens ’n reuse mislukking gehad met sy feesgeleentheid om die108 ste bestaansjaar te vier in die Noord-Kaapse stad Kimberley.

Die opkoms was uiters teleurstellend en die min mense teenwoordig toon dat die ANC beter kon gedoen het om hulle beeld te poleer deur eerder geen byeenkoms te hou nie.

Dit is egter nie al nie, want die onwettige bytrek van weermag soldate het ’n wrang smaak gelaat, en moes inderhaas aangespreek word en moes die troepe weer die terrein verlaat.

Die groot mislukking is egter die verklaring wat deur die Party uitgereik is, want die 8,000 woorde van die verklaring is betekenisloos en suiwer ’n poging om die ANC beeld te bou – en dit het klaaglik misluk.

In die verklaring word organisatoriese eenheid bepleit, en elkeen wat die TV dopgehou het weet dat die werklikheid een van verdeeldheid is.

Die mees opvallende van die verrigtinge was die kragmeting en onderlinge spanning tussen die Cyril Ramaphosa ondersteuners en die Jacob Zuma garde wat duidelik besig was om die swaarde te slyp.

Die Ace Magashule faktor was ewe goed waarneembaar, en die waarnemers meen dat die steun vir die ANC president maar wankelend is, want sy beloftes oor ekonomiese groei, werkverskaffing, en buitelandse beleggings is nou so holrug gery dat selfs sy eie ondersteuners nie meet daaraan wil byt nie.