Beurtkrag is SA se voorland

Die groot aantal kragsentrales se toerusting wat in ’n swak toestand is, tesame met die hoë volume “onbeplande onderhoud” wat gedoen word, sal Suid-Afrika eersdaags weer onderwerp word aan die euwel van beurtkrag.

Vanaf middel Januarie wanneer die nywerhede en skole weer aan die gang kom, sal die kragverbruik weer die hoogte in skiet, en sal die swak onderhoud by kragsentrales die verbruiker weer terugsit op beurtkrag.

Benewens die ongerief daarvan, sal die ekonomiese agteruitgang net vinniger plaasvind.

Met ’n verwagte aanvraag van 4,000 MW minder as die normale kon die kragvoorsiener kwalik byhou in die vakansietyd.

Met sy swak onderhoudswerk en die verhoogde aanvraag wat vanaf die middel van Januarie ondervind sal word, kan Suid-Afrika hom gereedmaak vir ’n lang en uitgerekte tydperk van beurtkrag wat die ondergang van talle sakeondernemings kan meebring.

Die sogenaamde “onbeplande onderhoud” het gedurende Desember ’n vermindering van tot 14,000 MW veroorsaak, en kenners reken die “onbeplande onderhoud” gaan weens swak instandhouding dramaties toeneem sodra die aanvraag na krag verhoog.