Australiese brande nou vreesaanjaend

Duisende mense het hulle na die strande begeef in Australië om van die gevaarlike bosbrande te ontsnap wat mense se lewens bedreig.

Die bosbrande wat nou verskeie kleiner dorpe aan die ooskus bedreig, het mense genoop om na die seestrande uit te wyk om die vlamme te vermy.

Die regering was genoodsaak om nou ook die militêre voertuie en helikopters in te span teen die bosbrande wat reeds miljoene hektaar woude vernietig het.

Die onheilspellende rooi lugruim en die swaar rook besoedeling wat oor groot dele ondervind word, tesame met die versengende hitte van abnormale temperature, maak die ’n gevaarsone vir die inwoners van die gebied.

Uit radeloosheid het die owerheid nou om hulp gevra van die Amerikaanse regering en van Kanada om die brande wat reeds maande voortwoed, te bestry.

In die afgelope naweek het nog twee vrywillige brandbestryders met hulle lewens betaal, wat die sterftes op 18 mense te staan bring.

Deskundiges wys daarop dat meer as 4 miljoen hektaar reeds deur die brande verwoes is, en dat buitelandse hulp nou dringend benodig word.