2020 – Boodskap van die Calvinistiese Alliansie

Die nuwe jaar is byna ’n week oud – en die nuus en gebeure voorspel ’n jaar wat baie kan laat terugdeins in kommer.

Ons beleef vandag benoudheid en stryd op haas elke terrein:

groot dele van ons land gaan gebuk onder droogte, wat lei tot brood-nood vir baie;

die tragedie van volksmoord woed onverpoos, terwyl owerheid geweld teen volksgenote onheilspellend toeneem;

benewens ineenstorting van dienste en infrastruktuur, beleef ons rasse-diskriminasie op al groter skaal;

die terreine van kerk en onderwys, waar ons nog ons eie sake bestuur, bly die teiken van onregmatige wetgewende bedreigings;

ten beste gly ons land se ekonomie dag-na-dag verder van die punt van ommekeer die afgrond in.

Wanneer Israel hulle in sekerlik vergelykbare omstandighede bevind, bemoedig die Here hulle deur die profeet Jeremia:

Lees Jeremia 29, verse 4 tot 14, met ons fokus verse 11 tot 14a:

11Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. 

12Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.

13En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.

14En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die Here,

Hierdie beloftes word ingelui deur ’n oproep van die HERE dat die volk nie moedeloos moet word in hulle omstandighede nie, maar positief moet aanhou werk, bou en groei. (verse 5 tot 7)

In lig van landsomstandighede kan ons beslis nie ontken dat die toekoms, menslik beskou, baie duister blyk nie; blinde optimisme is dwaas.

Maar, as Christen-gelowiges mag – nee móét – ons egter let op die troos van God se beloftes, ook die beloftes hierbo verwoord. 

Later sou Paulus aan die gemeente van Korinthe skrywe dat gelowiges nooit terneergedruk, radeloos of verlate is nie.

Die Here Jesus self belowe dat God die Heilige Gees áltyd met ons sal wees.

Hierdie troos geld vir tyd (ons lewe hier en nou) én ewigheid; die beloftes vrywaar ons nie van aardse teëspoede nie, maar dien om ons geloof te versterk.

Hier moet ons vers 13b ter harte neem: ons moet ons kommer na God neem, met ons hele hart.

Prakties beteken dit dat ons ons lewe – individueel en as volk, ook as landsburgers, opnuut moet wy aan die eer van God, deur gehoorsaam te lewe aan Hom alléén.

Daarom is ons bede aan elke volksgenoot dat daardie Goddelike vrede wat geloof ons bied, elkeen se deel sal wees.

Ons oproep aan elke volksgenoot is om ag te slaan op die beloftes, maar óók op die wekroepe van God’s Woord tot ’n lewe tot eer van God, deur gehoorsaamheid aan Sý wil, elke dag, op elke lewensterrein.

n. Die Bestuur, Calvinistiese Alliansie