Turkye stel prototipe e-motor bekend

Turkye het die eerste twee prototipe elektriese motorvoertuie wat in die land vervaardig is, bekendgestel met die vooruitsig dat produksie in 2022 begin sal word.

Die regerings-ondersteunende projek is in ’n begroting van meer as €3 miljard opgeneem wat uiteindelik vyf verskillende modelle binne 15 jaar sal vervaardig.

 President Recep Tayyip Erdogan is die voorreg gegun om met een van die prototipe voertuie ’n toetsrit te onderneem, en het gesê die projek neem Turkye ’n stap vorentoe om ’n lang verwagte droom te bewaarheid.

Turkye se regering glo dat die vervoermiddels van die toekoms hoofsaaklik elektries aangedrewe sal wees, en maak hom betyds gereed om aan die land se behoeftes te voldoen.

Uiteindelik sal die projek 4,000 nuwe werksgeleenthede bied wat verantwoordelik sal wees vir die vervaardiging van sowat 30,000 elektries aangedrewe motors per jaar.