Sjina verbied VSA militariste in HK

Die Sjinese regering in Beijing het gesê die VSA se oorlogskepe asook sy vegvliegtuie sal nie toegelaat word om Hong Kong aan te doen vir ’n militere besoek nie.

Beijing het ook aangekondig dat sanksies teen verskeie Amerikaanse nie-regerings organisasies ingestel word vir hulle bydrae om die protesteerders in Hong Kong aan te spoor tot ekstremistiese en gewelddadige kriminele aksies.

Die aankondigings is deur die Sjinese Minister van Buitelandse Sake gemaak in reaksie op die Amerikaanse besluit in die Huis van Afgevaardigdes om die pro-demokratiese beweging van die stad te steun.

Sjina sê enige aansoeke en versoeke van die VSA om militêr besoek te bring aan Hong Kong, sal afgewys word, en gewaarsku dat Beijing verdere optrede sal toepas waar en wanneer nodig.

Die VSA het geen kommentaar gelewer op die Sjinese uitlatings en waarskuwings nie, maar die protesteerders in die stad het met ’n massa optog, honderde Amerikaanse vlae vertoon uit verset teen Beijing.

Sjina sê die VSA moet sy verantwoordelikheid nakom en sy foute ten opsigte van Hong Kong uit die weg ruim, en die gebruik van die VSA om jaarliks ’n militêre besoek aan Hong Kong te bring, sal nie verder toegelaat word nie.