SAL stel sake redding praktisyn aan

Les Matuson

Die Raad van Direkteure van die bankrot SA Lugdiens het ’n sake redding praktisyn aangestel, het die maatskappy die afgelope naweek bekendgemaak.

Les Matuson is aangestel met die verstandhouding dat die Raad van Direkteure nie mag inmeng in die bestuur van SAL nie, en alhoewel dit ’n regulasie is wat altyd geld, word dit ook beskou as ’n mosie van wantroue in die raad.

Ingevolge bepalings soos neergelê deur die Maatskappy en Eiendoms Kommissie is die SAL amptelik onder sake redding, en alhoewel die direkteure steeds hulle poste behou, het hulle geen reg of seggenskap of beheer oor SAL nie.

Matuson het egter nou ’n wedren teen tyd om die SAL te herstruktureer terwyl die entiteit nog in bedryf is, en moet hy toesien dat die entiteit met die R4 miljard tot sy beskikking, die mas opkom, of so nie sal die deure gesluit moet word.

Die bedryfskoste beloop R500 miljoen per maand, en as die veranderings nie baie goed en vinnig plaasvind nie, sal die entiteit dit nie lank maak nie, word gesê.