Perspektief: Gelofte-lesse in 2019

Desember-duisternis – letterlik en figuurlik danksy party-politieke wanbestuur – het meeste lesers sekerlik warm onder die kraag.

Gemeet aan elke dag se kwota slegste nuus, is dit maklik om moedeloos te voel.

Koue, nat weer sonder krag …

Gedurende hierdie week in 1838 was die weer óók koud, nat …

En nat weer was in die era van loskruit-vuurwapens ’n saak van dodelike erns!

Maar 9 Desember 1838 maak ons ’n gelofte: ’n gelofte in nood, weliswaar, maar ’n gelofte wat ook spreek van hoop en vertroue op ’n God-gegewe toekoms.

Dit was sekerlik nog nie in elke hart destyds ewe seker of hulle (én hulle geliefdes in die laers) die hoop van die gelofte-ondernemings sou beleef nie.

Ons wat oor die meer as 180 jaar sederdien terugkyk weet egter hoe wonderbaar daardie vertroue beantwoord was, op 16 Desember 1838, asook in die weke, jare en dekades sedertdien.

Ons moet in 2019 opnuut erns maak met ons gelofte: terwyl die groei in gelofte-onderhouding verblydend is, mag ons nie die erns van nie-nakoming – of erger, “versoenings feeste” – geringskat nie.

Die belangrikste les vind ons in die geloofs-eenheid, onderstreep deur die oproep dat wie nie aan die gelofte gebonde wou wees nie, eerder die laer moes verlaat!

Ons moet daarom in 2019, en vorentoe, ophou om ons eie bondgenootskappe te probeer vorm;

volks-eenheid is belangrik, MAAR die eer van God en gehoorsaamheid aan Sý bevel is veel belangriker: ons mag nie met heidene in een juk trek nie!

Vandag, tragies, sluit dit ’n meerderheid “eie” mense in …

Nieteenstaande duister magte, nieteenstaande onbeheerbare omstandighede, nieteenstaande krimpende getalle – die uitkoms en ons ewige toekoms is reeds bepaal en ons moet elke dag in vertroue lewe!

Daardie vertroue verg ’n ewigheids-perspektief:

Daardie eerste gelofte-afleggers het voouit gekyk na volks-wording, na opeenvogende geslagte wat die gelofte sou eerbiedig, na ’n gemeente wat aan God die eer sal bring vir dit alles.

Lees ons die geskiedenis rondom die gelofte en gebeure destyds in Natal, kan ons duidelik ons voorouers se geloofs-perspektief eien – berusting dat wat die uitkoms ook mag wees, hulle as gelowiges áltyd ’n toekoms het!

Geloofs-eenheid. Vertroue.

En omdat ons op daardie grondslae lewe met ’n ewigheids-perspektief, kan ons elke dag voortgaan en bou, selfs in die kleine, sodat ook óns kinders sal onthou, dat hulle óók die gelofte sal onderhou.

Kom ons herdenk aanstaande week met heilige erns ons gelofte; kom ons bring dank vir milde reën, elke dag se genadegawes, die geloof om te kan volhard.