Onbeantwoorde onsekerheid

Sedert die sestigerjare, toe die Nasionale Party begin het om te wankel weens sy koersveranderings, het Afrikaners reeds begin praat oor die vryheid van die volk wat bedreig word.

Met verloop van jare het ’n deel van die volk bly kleef aan die koerslose regeringsparty, maar ’n kleiner deel van die volk het koersvas ’n ander heenkome gevind binne partypolitieke verband.

Die uiteinde daarvan is aan ons almal bekend, maar die hartseer van die verloop waarin die Afrikaners sy vryheid prysgegee het sonder slag of stoot, bly ’n onuitwisbare vernedering.

Na 1994 het die Afrikaner steeds bly kleef aan die verwronge geagte dat alles wel sal wees, dat ons kaart en transport het vir ons grond en dat ons steeds eie skole en eie woongebiede sal behou – maar helaas, het dit ook vervaag en is daar tans ’n nuwe gier onder diegene wat nog kans sien om in die ruwe land te woon en te werk.

Die gejaag na ekonomiese welvaart het die slagspreuk by menige volksgenoot geword, en die strewe met ideaal van ’n eie soewerein onafhanklike land het so vervaag dat selfs behoudendes die ideaal verruil het vir die buiteland of ’n binnelandse bankrekening waarmee hulle alles kan doen wat nodig is om lekker te lewe.

Die onbeantwoorde vrae het groter onsekerheid gebring, en die enigste plek waar daar nog dapper praatjies gemaak word is om die braaivleisvuur met ’n bier in die hand.

Diegene wat gesink het die vryheid sal aanbreek  soos wat geweldenaars en naïewe stryders dit wil doen, het beslis nie die Woord goed begryp en goed bestudeer nie, want ons Skepper is nooit haastig nie, maar is ook nooit laat nie.

Slegs ’n klein kerngroep het oorgebly wat steeds glo die dag sal aanbreek dat ’n onafhanklike staat vir die Afrikaner werklikheid gaan word.

Diegene wat daaraan kleef, me. die oog gerig op die God van Bloedrivier, sal nie beskaamd staan nie – al is dit eers op die dag wat die nageslag die vryheidsvlae sal laat wapper.