Motor rubriek – Peugeot 5008 1,6 THP Auto GT-Line

Wanneer ons ouer lesers hoor of sien Peugeot, gaan ‘n mens se gedagtes onwillekeurig terug na byvoorbeeld die Peugeot 404 van ‘n aantal dekades gelede. Dit was redelik hoekig gebou maar betroubaarder kon jy nie kry nie.

Met die vaartbelynde bakwerk van vandag, is dit eintlik ‘n “plesier” vir die oog. Aanvanklik wil ‘n mens om die motor stap en dit eers van buite bekyk maar dan besluit jy: “Nee, kom ons bekyk dit eerste van binne”.

Om binne in die motor te kom is baie maklik. Dit is nie nodig vir die gebruik van ‘n sleutel nie en wanneer dit aangeskakel word, gebruik jy ook nie die sleutel nie. Die eerste wat opgemerk word is die stewige stuurwiel met die onderste gedeelte wat plat is sodat dit makliker is om agter die verstelbare stuurwiel in te skuif. Dit is ‘n stewige stuurwiel waarop verskeie skakelaars gemonteer is vir die beheer van die toerusting en in die binneste gedeelte is daar ‘n lugsak gemonteer om die veiligheid van die bestuurder te verbeter.

Duidelik leesbare instrumente is regvoor die bestuurder gemonteer en op die instrument paneel is elke moontlike instrument gemonteer en alle inligting wat benodig word, is daar beskikbaar. In die middel van die instrumentpaneel is die aanraakskerm gemonteer en reg onder dit is die luguitlaat van die lugversorger gemonteer tesame met ‘n elegante ry skakelaars wat weer onderkant dit gemonteer is.

Tussen die voorste sitplekke is ‘n konsole gemonteer met pakplek vir kleiner bagasie en die ratkies hefboom maak deel uit daarvan. Die sitplekke is met Nappa leer bedek en die bestuurder se sitplek, afgesien van die verstellings, het ook ‘n masseer funksie om die liggaam te masseer sodat die lang pad met gerief aangepak kan word en jy aan die einde van rit bykans uitgerus by jou bestemming kan aankom. Die i-Cockpit verstelling van die bestuurder se sitplek verhoog die gerieflikheids faktor. Die binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en ‘n mens is amper te jammer om die binnekant te verlaat om dit van buite te beskou.

Vir die agterste passasiers is daar meer as genoeg beenspasie en die derde ry sitplekke is die ideale plek vir kinders. Daar is ook voorsiening gemaak vir Isofix hegplekke om die kinder sitplek te kan akkommodeer en die voertuig kan 7 insittendes neem.

Van buite trek die sierlike lyne van die bakwerk dadelik die aandag met die bekende Peugeot embleem in die middel van die sierrooster. Die LED hoofligte vorm ‘n netjiese deel met die voorste buffer en die kolligte vorm op hulle beurt weer deel van die luginlate wat help met die verkoeling van die voorste remme. Onder die sierrooster is die luginlate wat sorg dat die vier silinder in lyn kragbron die nodige verkoeling ontvang.

‘n 1598 kub. sentimeter, dwars gemonteerde, elektroniese direkte brandstof inspuiting, turbo aangejaagde, petrol kragbron word gebruik en die maksimum wringkrag is 240 nm tussen 1400 o.p.m. en 4000 o.p.m. terwyl die krag 121 kW is en die rooilyn by 6000 o.p.m. verskyn.

Om die voertuig tot stilstand te bring word daar gebruik gemaak van ‘n ABS remstelsel, met EBD en EBA ondersrteuning met 283mm geventileerde skywe op die voorwiele en 268mm soliede skywe op die agterwiele. Die veerstelsel wat gebruik word is die bekende MacPherson stutte, spiraal vere en anti-rol staaf op die voorwiele en ‘n wringstaaf met spiraalvere vir die agterwiele.

Die ratkas wat gebruik word is ‘n ses spoed outomatiese ratkas wat die voorwiele aandryf en elektroniese stabiliteits beheerstelsel voorsien die nodige hulp wanneer daar teen ‘n skotige opdraande vertrek moet word. Die oorskakeling van die beproefde ratkas geskied seepglad en ‘n mens moet jou daarop instel om die oorskakeling waarteneem anders kom jy dit nie agter nie.

Van die kant gesien vorm die 19 duim allooi wielnawe ‘n eenheid met die res van die voertuig en die die deurknippe van die deure is dieselfde kleur as die bakwerk terwyl die sykant spieëls in swart geverf geverf is.

Wanneer die agter klap oopgemaak word is daar 456 liter beskikbaar vir bagasie en dit maak dit die ideale voertuig om byvoorbeeld besoek te bring aan die wildtuin.

Met bogenoemde in gedagte is dit ‘n voertuig wat gerus geneem kan word vir ‘n padtoets en volgens berigte is Peugeot se bestuur daar op ingestel om goeie diens aan kliënte te verskaf en seker te maak dat diens sonder probleme verloop.