Landbouers in nuwe krisis

Die bek-en-klouseer wat in ’n swart gebied van Noord-Transvaal uitgebreek het, is nou die hoofoorsaak dat die veeboere regoor Suid-Afrika gestraf word.

Die hele Transvaal is aanvanklik deur die regering verbied om enige veeveilings te hou, uit vrees vir verdere verspreiding van bek-en-klouseer.

In die afgelope week het landbou deskundiges gewaarsku dat die regering ’n verbod gaan instel wat regoor Suid-Afrika van krag sal wees dat geen veilings, skoue of enige saamvoeging van vee toegelaat sal word nie.

Die Suid-Afrikaanse boer kom in sekere dele van die land, pas uit die ergste droogte van die afgelope 20 jaar, en word nou nadat mildelike reën oor groot gebiede uitgesak het, beperk om nie van sy vee te verkoop of te skou nie.