Kreupel SAL wil radikaal herstruktureer

Die sukkelende SA Lugdiens wat maar net nie sy finansiële toestand verbeter kry nie, het glo aangekondig dat “radikale herstrukturering” beoog word om die staats entiteit van ondergang te red.

Die redery wat die afgelope weke telkens op die voorblad van Suid-Afrikaanse koerante was oor sy swak diens, stakings en onvermoë om personeel betyds te betaal, wil nou skielik nuwe planne maak.

Die SAL se Raad van direkteure, tesame met die uitvoerende komitee het glo ’n “intense bespreking” gevoer oor die saak, en ook met die Departement Vervoer en die tesourie gesprek gevoer.

Soos gewoonlik, wil SAL geld waarborge hê sodat hy nog groter skuld kan aangaan, maar of die tesourie gaan byt aan die holrug geryde storie, sal die tyd leer.

Die Departement sê in ’n verklaring SAL het die afgelope jare deur moeilike tye gegaan, maar kenners reken die moeilike tye is deur die bestuur en sy onwillige werkers veroorsaak.