Johnson behaal reuse oorwinning

Die Britse Eerste Minister, Boris Johnson, se Konserwatiewe Party het ’n klinkende oorwinning behaal teen die linkse politici en daarmee die weg gebaan om Brexit af te handel.

Johnson het in sy verkiesingsveldtog die fokus laat val op die uittrede uit die Europese Unie, en ’n ekonomiese groei wat daarna sal volg.

Van die 650 setels in die parlement, het die Konserwatiewe Party 368 gewen, en daarmee ’n sterk meerderheid behaal wat die grootste is sedert die 1987 oorwinning van die land se Ystervrou, Margaret Thatcher.

Die Konserwatiewe Party het sy grootste opponent, die linkse Arbeidersparty van Jeremy Corbyn, vernietigend verslaan en kan nou met die grootste gemak die uittrede uit die Europese Unie deurvoer op 31 Januarie 2020.

Die Arbeidersparty se swakste vertoning in 84 jaar laat die moontlikheid dat sy leier, Jeremy Corbyn, die tuig sal moet neerlê.