Zondo Kommissie wag vir Zuma

Die Zondo Kommissie wat ondersoek doen en getuienis aanhoor oor die Staatskaping tydens Jacob Zuma se regering, het wel aan die voormalige president uitstel verleen omdat hy gehospitaliseer moes word, maar dit beteken nie sy getuienis is afgestel nie.

’n Joernalis het Zuma se siektetoestand in twyfel getrek en gevra hoe siek Zuma nou eintlik is as hy ewe gelukkig is om aanhoudende “twiets” te stuur na die Zondo Kommissie hom uitstel verleen het.

Waarnemers het dit ook bevraagteken dat Zuma in ’n erge siekte toestand is nadat hy meer as ’n week voor die tyd kon sê hoe lank hy siek sal wees.

Daar bestaan ’n algemene gevoel dat Zuma weereens besig is om verdoemende verhore uitgestel te kry met die hoop dat dit uiteindelik afgestel gaan word.

Op die sosiale netwerk is spottenderwys gevra of daar nou ’n nuwe siekte, bekend as Schabir Shaik, in Suid-Afrika uitgebreek het.