VSA-Noord Korea onderhandelings stol

Noord-Korea is besig om die VSA in ’n ongewenste rigting te druk deur voorwaardes te stel vir verdere onderhandelings oor die Skiereiland se kernwapen program.

Aanvanklik het die VSA besluit om sy jaarlikse militêre oefening saam met Suid-Korea te stop ten einde die kommunistiese Noorde se wens na te kom en daarmee voortgesette dialoog te verseker.

Kort nadat die besluit geneem is, het Noord-Korea nuwe eise gestel, en sê die VSA moet sy beleid ten opsigte van Pyongyang verander as voortsetting van dialoog belangrik genoeg is.

Die media in Suid-Korea berig dat die kommunistiese Noorde nie bereid is om die gesprek met President Trump te hervat solank as wat die VSA niks aan hulle teruggee nie.

Die Noord-Koreaanse Adjunkminister van Buitelandse Sake het met sy besoek aan Rusland gesê daar is geen moontlikheid dat Kim Jong-Un en President Donald Trump ’n volgende ontmoeting kan hou om oor kernwapens in Noord-Korea te onderhandel as die VSA nie sy houding teenoor die kommunistiese land verander nie.