Vakbonde wil Eskom baas intimideer

Andre de Ruyter

Andre de Ruyter, die nuut aangestelde Hoof Uitvoerende Beampte van Eskom, sal in Januarie sy amp beklee, maar sal ook met goeie voetwerk sy staan moet ken.

Die goed gekwalifiseerde man wat ’n stewige bydra as hoof van Nampak gemaak het, sal egter sy nuwe pos met baie knelpunte moet benader op ’n meesterlike wyse.

Die vakbonde het reeds probeer om De Ruyter te intimideer deur te probeer om sy opdrag ongedaan te maak. Alhoewel hy die opdrag het om Eskom in drie verskillende entiteite op te deel, het die vakbonde laat weet dat hulle slegs hulle samewerking sal gee indien De Ruyter nie ontbondeling gaan deurvoer nie.

Die hoof sal ook die wysheid van Salomo moet hê om die wanadministrasie reg te ruk, die R450 miljard skuldlas afgelos te kry, en boonop moet toesien dat die vakbonde nie sy ontbondeling gaan boikot met stakings nie.

Die Rooi brigade en die Numsa vakbond staan op die voorpunt om die ontbondeling teen te staan, wel wetende dat dit gaan lei tot die vermindering van personeel wat tot hede deur kenners beskou is as ’n totale oorbevolking by die kragvoorsiener.