Uit my Kuierkombuis

Die afgelope naweek het ons ‘n gemeente ete na kerk gehad.   ‘n Heerlike koue middagete is opgevolg deur ‘n roomys lekkerte afgerond met ‘n nie te soet sjokoladesous.   Veral vir die warm somermaande,  is hierdie nagereg ‘n treffer en met net vier bestanddele wat jou so R80 uit die sak gaan jaag,  maar waarmee jy gemaklik  20 porsies kan uitkry.

Roomys met ‘n gemmer-kinkel

Bestanddele

1 x 200g gemmerkoekies (ek het per ongeluk ‘n pakkie geneem wat suurlemoen stukkies ingehad het,  en dit was heel besonders)

1 x 100g gerooster en gesoute kasjoeneute

1 blik gekaramaliseerde kondensmelk

2 liter vanielje roomys

Versiering : gesnipperde glanskersies en gekapte kasjoeneute

Metode:

U het nodig ‘n bak (wat vrieskas bestand is) van 30cmx20cmx5cm.

  1.  Breek die gemmerkoekies in klein stukkies onderin die bak en strooi ‘n gedeelte van die gebreekte kasjoeneute ook daaroor.
  2. Gebruik ‘n balvormige draad handklitser en vou die karamelkondensmelk eweredig by die vanieljeroomys in.
  3. Skep die roomysmengsel eweredig oor die gebreekte gemmerkoekie “kors” en plaas in die vrieskas om behoorlik te stol.
  4. Sodra gestol,  versier u die nagereg met fyngesnipperde glanskersies (groen en rooi afgewissel vertoon feestelik),  asook met die res van die gekapte kasjoeneute.
  5. Plaas oornag in die vrieskas tot en met opdiening.
  6. Bedien dit met ‘n sjokoladesous wat nie te soet is nie.

NB! Maak seker dat u gaste nie allergies is vir neute nie!!

Wenke:

Om die nagereg ryker te maak,  kan sjokoladesplinters of pepermentcrisp sjokolade in die roomys gevou word en ook daarmee afgerond word. 

Geniet die heerlike koel nagereg!