Uit my Kuierkombuis

Vrydagaande is gewoonlik pizza-aand veral wanneer die kinders kom kuier.  Dit is vinnig om te maak,   die bestanddele bo-op kan afgewissel word,  die baktyd is kort …… en die eindresultaat is baie lekker!  Indien daar ‘n blokkie of twee oorbly,  word dit of saam met ‘n middernag beker tee of anders vroegoggend geëet terwyl die koffie gemaak word.

Maklike pizza

Bestanddele:

750 ml bruismeel

400 ml ongegeurde joghurt

2,5 ml sout

Vir bo-op die pizza:

1 blik tamatie en uie

Knoffelflokkies (opsioneel)

5 – 10ml droë origanum

250g spek snippers

1 ui fyn gekap

200g mozzarellakaas grof gerasper

125g cheddarkaas grof gerasper

droë pietersielie

Metode:

  1. Plaas die bruismeel en sout in ‘n mengbak en meng deur met ‘n balklitser.
  2. Skep die ongegeurde joghurt by die meel en sny dit met ‘n mes in tot goed gemeng.
  3. Strooi koekmeel op ‘n groot broodplank of blad wat vir uitrol van deeg gebruik word. 
  4. Keer die deeg op die meelbestrooide oppervlak,  rol dit liggies in die meel sodat die deeg makliker hanteer kan word en rol uit mbv ‘n koekroller sodat dit kan pas in ‘n pan van 45cm X 30cm. (Bespuit die pan vooraf met kleefwerende middel.
  5.  Druk die deeg mooi eweredig in die pan en smeer met die blik tamatie en uie smoor. (Die tamatie en uiesmoor,  kan vooraf verpulp word indien nodig)
  6. Strooi knoffelflokkies,  gekapte ui asook origanum eweredig oor die tamatie smeersel.
  7. Versprei die speksnippers asook die twee soorte kaas eweredig oor en rond af met droë pietersielie.
  8. Bak in ‘n voorverhitte oond van 200ºC vir 15 – 20 minute.
  9. Sny in 24 blokkies en geniet ‘n heerlike ligte maaltyd!

** Vleis kan afgewissel word met oorskiet hoendersnippers/ gerookte hoendersnippers,  gaar boereworswieletjies of ander geurige worsies wat opgesny is.

**  Slegs mozzarella kaas kan ook gebruik word ipv mengsel soos in resep verwys.

**  Klein gesnyde blokkies tamatie of pynappel kan bygevoeg word.

M.a.w.  maak jou eie veelsydige mengsel bo-op jou pizza basis, rond af met gerasperde kaas en ……  geniet elke happie!