Uit my Kuierkombuis

Wanneer jy aftree ouderdom bereik,  kan jy weer gaste nooi vir ontbyt op ‘n weeksoggend. Vars gebakte brood is ‘n welkomsgroet vir jou gaste!  Ek het so ‘n paar jaar gelede my Ouma se Tedelex Cooking Crock (prutpot) gekry en in die sosiale media gesien,  die prutpot kan vir meer as net bredies aangewend word.  Ek het die oorspronklike resep beproef en op die uiteinde besluit op die gebruik van bakpapier onderin die prutpot.  Die broodjie sit nie vas nie,  bak bros en bruin ……….. en is heerlik!

Prutpot brood

1 sakkie brooddeeg (±1kg)

** Bakpapier uitgesny om onderin die keramiekpot te pas en BAIE BELANGRIK……spuit die bakpapier eers met kleefwerende kossproei voordat u die deeg bo-op dit plaas!.

 Smeer die pot se binnekant met botter en spuit die deksel met kleefwerende middel.

 Knie die sakkie deeg bietjie af (indien nodig, want hy verloor in elkgeval bietjie van sy “pof” wanneer jy dit uit die sakkie haal) en plaas onderin pot en plaas die deksel op.

 Bak vir 2 ½ uur op hoog (“high”)

 Verwyder die deksel en bak die laaste ½ uur steeds op hoog.

Indien nodig maak kante los met slaplemmes, maar u sal sien die brood trek mooi weg van die kante …………… en jy kan sommer sien hoe mooi bruin hy gebak het!

Keer uit op afkoelrak, laat effens afkoel, sny ‘n paar snye brood, bedien met botter en konfyt of waarvoor u lus is.

Die geur van die broodjie wat besig is om te bak …………. is heerlik en ‘n wonderlike aptytwekker!

Die prutpot (slow cooker) wat ek gebruik het,  het ‘n keramiekpot (nog my Ouma se Tedelex Cooking Crock)  en sy inhoudsmaat is 3 ½ liter.

Indien u ‘n kleiner prutpot het ………….. halfeer net die pakkie deeg.

** Dit is nie gewone waspapier nie ……………….. dit is spesifiek bakpapier wat soos was papier lyk, maar behandel is.

 Ek sny die brood in die helfte,  draai dit op die gesnyde plat kant en sny dan snytjies wat maklik hanteerbaar is.