Triomf van nasionalisme

Sonder om nostalgies te raak, kan ons na die tydperk voor 1994 verwys as die tyd waarin die Boere-Afrikaner met trots sy nasionalisme kon uitleef in elke denkbare deel van sy lewensbestaan.

Op kulturele gebied was daar soveel geleenthede waarin die volk hulle geskiedenis en hulle toekoms kon deel met mekaar, en die Afrikaanse kerke het die Woord van God suiwer en doelgerig gedra om rigting en koers te gee aan sy gelowige lidmate.

Dit was met trots, en met die besef van die kundigheid onder volksgenote dat ons kon sien hoe Eskom, Denel, Sasol, en talle ander instansies die belange van Suid-Afrika met groot sukses vorentoe geneem het.

Die vervaardiging van die atoombom het die wêreld geskud, en die VSA het beweer dat dit onmoontlik is dat die nuwe metode toegepas kan word, maar moes helaas hulle twyfel terugtrek.

Ewe so het die wêreld regop gesit toe Suid-Afrika die eerste suksesvolle hartoorplanting in Kaapstad uitgevoer het, en daarna sou die een na die ander mediese deurbraak sy oorsprong hê in Suid-Afrika.

Nou is dit ’n kwart eeu na 1994, en dit laat die vraag hangende: Wat het die Boere-Afrikaner sedert hy deur vreemdelinge regeer word, bereik in die land wat eens ’n modelstaat in Afrika was?

Miskien het dit tyd geword dat ons volk weer bymekaar kom om onsself te verantwoord oor wat ons behoort te doen om die erwe van ons vaders, veilig en met trots aan ons kinders en die geslagte wat kom, oor te dra in ’n beter toestand as wat ons dit ontvang het.

Wat bereik was bly onuitwisbaar deel van ’n trotse nasionalistiese volk, maar daarby kan ons nie stilstaan nie – daar is werk, en niemand gaan dit vir ons volk doen nie.