Perspektief: Swart Vrydag ’n volkseie skandvlek

Weke se promosie en aanbiedinge, wat die afgelope week dag-na-dag toegeneem het tot vandag se hoogtepunt van Mammons-aanbidding, is sprekend van ’n hartelose, selfsugtige wêreld – ’n wêreld waarin eie gerief, eie (vals) voorspoed en uitspattige verbruik die “nuwe normaal” geword het.

Op die vooraand van advent, skrei hierdie kontras ten hemele met die betekenis van Christus se koms na die wêreld.

Eersdaags sluit skole vir die jaarlikse somervakansie, die spreekwoordelike afsetters-skoot vir die jaarlikse migrasie na die land se vakansie-bestemmings.

Duiselingswekkende bedrae gaan spandeer word op vakansies, vermaak, die ete en drinke van ’n feestyd wat waarskynlik weer eens nuwe hoogtes van gulsige verbruik gaan bereik.

In kontras hiermee gaan honderde duisende volksgenote ’n vreesagtige feestyd tegemoet – ’n  feestyd waartydens hulle kommer niks te doen het met die nuutste tegnologie-foefie of hoeveel om te eet nie – ’n feestyd waar hulle kommer is OF hulle genoeg te ete sal hê!

En nie net vandag, te midde van uitspattige verbruik, of tydens vakansies waartydens die welgestelde’s sorgeloos ontspan is hierdie ’n probleem nie:

’n  toenemende aantal van ons mense lewe in daaglikse ellende.

Swart Vrydag se hiper-uitspattigheid behoort ons, as ’n volks-samelewing egter tot  besinning te ruk.

Die teendeel van hierdie tragedie is hoe relatief min dit sal verg om ander se nood te verlig:

Na raming is daar ongeveer 2 500 000 Afrikaners in SA, deur die owerheid gedefinieer as etnies blank en Afrikaans-sprekend;

Die konsensus is dat minstens 600 000 in armoede lewe.

As bloot een derde van die oorblywende Afrikaners R 100 per maand gee vir armoedeverligting, monster ons R 63 miljoen per maand …

Wie kan dus armoede onder ons mense ignoreer….. Wie kan beweer ons kan nie help nie.

Dit spreek van die tragiese skandvlek op die openbare beeld van ons volk in 2019.

Ons het ’n volk geword waar honderde duisende in haglike omstandighede lewe, terwyl ’n kwynende groepie worstel om hulle te help, maar óók terwyl vele priesters en leviete anderpad kyk!

Dat daar geldige redes is vir baie gevalle van armoede, dat nie almal voltyds barmhartigheidswerk kan doen nie, is ook waar.

Maar ons moet nie ons Christelike volksroeping gering skat nie!

Ons hét die hulpbronne om ons eie mense weer op te hef; ons hét dit na 1838, na 1902 en gedurende die 1930’s gedoen!

Ons kán dit weer doen indien ons, ons harte rig op ons mede-volksgenoot, in stede van uitsluitlik eie voordeel.

Ons behóórt dit ook onbaatsugtig te doen: barmhartigheid roem nie in die media nie, fokus nie die openbare mening op homself nie.

Ware barmhartigheid vloei uit ’n dankbare hart; dit vloei uit ’n hart vir wie advent en Christusfees spreek van onverdiende genade.

Sal ons mense bereid wees om hierdie genade ook aan volksgenote te bewys – nie om gesien te word nie, nie om “hou-van” duimpies te verdien op sosiale media nie, maar om net die helpende hand na ’n volksgenoot uit te steek.