Pepkor winkels onttrek uit Zim

Suid-Afrika se grootste kettinggroep buite die kruideniers handel, Pepkor, het sy handdoek ingegooi in die bankrot land Zimbabwe.

Zimbabwe se inflasiekoers, die onbetaalbare brandstofprys, en die stagnering van die werkende burgery se salarisse het dit ’n nie-winsgewende bedryf gemaak om in die noordelike buurstaat voort te gaan met handel.

Die kameel se rug het gebreek met die gedurige tekort aan brandstof en die wisselende voorsiening van elektrisiteit.

Die maatskappy wat bekende etikette dra van Pep Strore, Ackermans, en ShoeCity, het nou sy laaste 20 winkels in Zimbabwe toegesluit na meer as 20 jaar se teenwoordigheid in die land wat jaarliks al verder agteruitgaan op ekonomiese gebied.

Zimbabwe ondergaan tans sy swakste ekonomiese jaar vir die afgelope dekade, en waarnemers is van mening dat die toestand nie gaan verbeter alvorens ’n meer realistiese benadering gevolg gaan word op ekonomiese en finansiële gebied nie.

Pepkor is self ook besig met ’n herstrukturering program, en sal uiteindelik sy winkels verminder tot 313 om die ekonomiese afswaai die hoof te bied.