Nuusflitse

Darling ook in kollig

Die rustige Wes-Kaapse dorpie Darling was die toneel van pad blokkering deur protesteerders. Die hoofpad van die dorp is met klippe afgesper en die polisie is op die toneel.  Die rede vir die protes optrede is onbekend.

SOE slaan toe op raad

Die Spesiale Ondersoek Eenheid het toegeslaan op die Noordelike Raad se kantore in Pietersburg.  Bewerings van korrupsie rondom die kontroversiële Giyane waterprojek was die rede vir die ondersoek.  Die mislukte projek van meer as R2 biljoen sou water aan Giyane en omliggende gebiede lewer.

Hittegolf vir die land

Inwoners kan hul gereed maak vir ‘n hittegolf die komende week.  Weerkundiges het  gewaarsku dat groot dele van die land buitengewoon hoë temperature gaan ervaar, selfs so hoog as 40 grade. Oos Transvaal, Natal en dele van Sentraal Transvaal kan gespaar wees van die hittegolf.  Geen reën word in die gebiede verwag nie en die brandgevaar is hoog.

Vrystaat stadsrade en Eskom

Eskom dreig weer om kragtoevoer af te sny van sekere Vrystaatse munisipaliteite wat miljoene rande aan die kragverskaffer skuld. Manguang wat Bloemfontein insluit, Mafube(Frankfort/Villers en omgewing) en Matsope( Ladybrand Excelsior en omgewing) munisipaliteite kan van 3 Desember  tussen 06:00 en 20:00 sonder krag wees.  Die kennisgewing is uitgestuur aan die drie munisipaliteite om reëlings vir betaling voor 3 Desember te tref.