Motor rubriek – Opel Crossland X 1.6TD Enjoy

In die onlangse verlede het General Motors besluit om SA te verlaat maar Williams Hunt het die geleentheid aangegryp en besluit om Opel in die land te behou en voort te gaan om dit te verkoop.

Die Opel Crossland is al ‘n aantal jare met ons maar was slegs besikbaar as petrol aangedrewe motors. Die heel nuutste Crossland is nou beskikbaar met ‘n “oliebrander” kragbron en dit beloof om ‘n sukses te wees. Dieselfde kragbron word in die Peugeot 2008 gebruik en dit is ‘n indrukwekkende voertuig in die sin van dat die beskikbare wringkrag van 230Nm teen 1750 o.p.m. goed aangewend kan word. 68 kW teen 4000 o.p.m. en die vier silinder, 1,6 liter, turbo aangejaagde, diesel enjin doen sy werk met gemak. Jy sal nou wel nie ‘n tydren daarmee wen nie maar wanneer die langpad aangepak word, sal dit met gemak die werk verrig. Ingeligte bronne beweer dat die brandstofverbruik ‘n skamele 6.5 l/100 km is en behoort die brandstofhouer wat 45 liter neem, te sorg dat ‘n goeie afstand afgelê behoort te word, voordat dit nodige is om die brandstof aan te vul. Opel was nog altyd bekend daarvoor dat ‘n goeie brandstofverbruik verkry word.

Gekoppel aan die kragbron is ‘n vyf spoed handratkas en daar kan verwag word dat dit in die toekoms heelwaarskynlik ook met ‘n outomatiese ratkas beskibaar sal wees. Dit bly egter ‘n plesier om ‘n “ratkierie” in die linkerhand te voel waarmee die bestuurder self kan kies watter rat hy wil gebruik.

Die Crossland is ewe tuis op die teer as op ‘n grond pad. Opel was nog altyd daarvoor bekend dat dit goeie padhouvermoë het en dat dit ‘n voertuig is met gerief. Voor word daar MacPherson stutte gebruik en agter wringstaaf met skokbrekers en spiraalvere. Binne-afwerking is van hoë standaard met ‘n wye reeks van toerusting beskikbaar. Onder hierdie toerusting tel ‘n lugversorger, die drie speek stuurwiel wat verstelbaar is en waarop verskeie skakelaars gemonteer is , ‘n aanraakskerm wat Apple CarPlay en Android Aoto beskikbaar het, snelheidsbeheer en sitplekke met verskeie verstellings om te verseker dat ‘n gemaklike sitposisie ingeneem kan word, vorm deel van die pakket. Alhoewel die plek vir die agterste passasiers effe beperk is, kan hulle nogtans ‘n gemaklike sitposisie inneem.

Sover as die veiligheid aanbetref, voldoen die Opel aan al die vereistes. ABS skyf remme met EPS ondersteuning is standaard en ook ‘n waarskuwingstelsel wat die bestuurder waarsku wanneer daar van bane verwissel word. Gedurende 2017 toe die Crossland bekend gestel is, is die toekenning as die veiligste motor deur Euro NCAP, aan die voertuig toegeken. Vir die veiligheid van die passasiers is daar ses lugsakke gemonteer en ook Isofix vasmaak plekke. Van voor gesien is dit opmerklik dat die bekende “blitz” embleem van Opel beklemtoon word met chroomafwerking aan weerskante en die sierrooster vorm ‘n eenheid met die voorste buffer. Die onderste gedeelte van die luginlaat gedeelte huisves die kolligte aan die buitekant terwyl die hoofligte wat direk onder die enjinkap gemonteer is, weer ‘n eenheid vorm met die voorste buffer.

Van die kant gesien vorm die 16 duim allooiwielnawe weer ‘n eenheid met die sierlike lyne van die sykant wat om die hoeke gaan en aansluit by die agterklap en wat dan die agterligte huisves met die Opel embleem in die middel. Onder die buffer is daar ‘n silwer beskerming gedeelte gemonteer wat ‘n eenheid vorm met die agterklap. Die grondvryhoogte aan die agterkant is 200 mm en aan die voorkant is dit 180 mm. Word die agterklap oopgemaak, is daar meer as genoeg pakplek vir bagasie.

Alhoewel die Crossland dit in ‘n verkoop vlak bevind waar die kompetisie hoog is, behoort dit tog goeie aftrek te kry. Indien u in die mark is vir so ‘n voertuig kan u dit gerus op u aankooplys plaas en dit gaan neem vir ‘n toetsrit by u naaste Opel handelaar. Die feit dat ‘n turbo diesel kragbron gepas is met ‘n lae brandstofverbruik, kan dalk die knoop deurhak.