Madupi nog steeds nie voltooi

Eskom sê die Medupi kragsentrale se Fase 2 stadium is in werking, en daarmee is dit deel van die kragvoorsiener se algemene uitset van elektrisiteit.

Die aankondiging kom12 jaar nadat die eerste sooi gespit is om Medupi op te rig, maar gedurende die tyd het Suid-Afrika baie meer betaal vir die oprigting as wat aanvanklik begroot is.

Behalwe dat die kragsentrale meer as 200% duurder opgerig is, het die koste van meer as R150 miljard getoon dat Suid-Afrika nie net onverantwoordelik omgaan met sy uitgawes nie, maar ook ewe onverantwoordelik is met die aanwys van diegene wat die oprigting moes doen.

Ekonome sê die oprigting van Medupi en Kusile kragsentrales het uiteindelik ’n totale bedrag van R234 miljard beloop, maar ingeligte bronne wys daarop dat nog baie geld benodig word om die twee sentrales op volle kapasiteit te bring.

Die koste van die twee sentrales het Suid-Afrika se enorme skuldlas verder verhoog, en ontleders reken dit gaan minstens 40 jaar neem voor Eskom se twee sentrales betaal sal wees, maar dat hulle teen daardie tyd ook reeds uitgedien is.