Kalifornië: Brande saai verwoesting

Meer as een miljoen mense is reeds sonder elektrisiteit weens die geweldige veld en bosbrande in die Amerikaanse staat Kalifornië.

Honderde duisende inwoners van die staat moes huis en haard verlaat uit vrees vir die verwoestende vlamme wat oor ’n wye gebied strek.

Teen Vrydag was daar reeds 38 gebiede wat sonder elektriese krag is wat sowat 970,000 huishoudings raak waar 2,5 miljoen mense woon.

Meer as 30,000 woonhuise moes verlaat word in die afgelope week van die verwoestende brande wat deur sterk wind in ’n droë klimaat sy vernietigende werk verrig.

Duisende mense moes in hulle motors wegry om elders by familie en vriende huisvesting te soek terwyl hulle woonplekke aan die vlammehel uitgelewer is.