Hong Kong staal hom vir naweek verset

Hong Kong het sy belangrike “Halloween” fees se terrein opgeruim na die afgelope week se feesvieringe waartydens pro-demokrate en die polisie weereens gebots het met mekaar.

Die owerheid van Hong Kong moes hom egter weer gereedmaak vir die massa optog wat Saterdag gehou is deur die aktiviste.

Alhoewel ’n regulasie uitgevaardig is dat geen persoon ’n gesigmasker mag dra in die openbaar nie, het honderde pro-demokratiese inwoners aan die optog deelgeneem met maskers op die gesigte.

Hong Kong beleef nou sy vyfde maand van onrus, en dit wil lyk asof daar geen moontlikheid bestaan dat die kommunistiese owerheid van die stad dit gaan keer nie.

Die polisie het weereens opgetree teen die aktiviste, maar die duisende mense in die optog het alles oorheers en het met baniere en slagspreuke oor Hong Kong se reg op demokratiese vryheid, die kalklig gesteel.