Grootpraat baat nie

Met die aankondiging van die president, Cyril Ramaphosa, dat ’n nuwe sake onderneming in Pretoria sal lei tot die skepping van 6,700 nuwe werksgeleenthede, het niemand werklik opgewonde geraak nie.

Selfs die krediet graderings agentskap het hom nie daaraan gesteur nie, want niks kan die byna 30 miljoen werkloses laat jubel as ’n druppel in die emmer val nie.

Natuurlik sal daar stof tot dankbaarheid wees vir elke nuwe werksgeleentheid wat geskep word, maar waarom die ANC regering, en sy president, daaroor opgewonde is, weet nugter.

Dit was nie deur hulle toedoen dat die onderneming aangepak word nie, maar net soos met die rugby oorwinning in Japan, wil Ramaphosa gesien wees waar sukses behaal is, so asof dit deur sy toedoen is.

Oor die jar het grootpraat niks gehelp om die toekoms te bepaal nie – slegs deeglike kennis en navorsing, goeie beplanning, en daaropvolgende uitvoering van die plan bring met eerlike en harde werk die verwagte goeie resultate.

Die grootpratery en die oneindige wanbestuur loop hand aan hand, en beide is ewe nikswerd in vandag se tyd van hoë eise wat gestel word om vordering te maak op ekonomiese gebied.

Die grootpraat beloftes van miljarde Rand se beleggings in Suid-Afrika het ’n muis gebaar, en die skuldlas wat deur die ondoeltreffende regering van die ANC opgebou is, het van die eens welvarende land, nou afgedruk tot rommelstatus en ’n spot van die Westerse wêreld.