Eskom spartel en SA kry senuwee aanvalle

Suid-Afrika kry senuwee aanvalle met die kragvoorsiener se gedurige waarskuwing dat sy netwerk op maksimum vermoë werk weens “noodsaaklike instandhouding” wat die totale kapasiteit beïnvloed.

Die kragvoorsiener sê alhoewel beurtkrag nie voorsien word nie, kan dit te enige tyd nodig word weens die druk wat ondervind word en die instandhouding wat steeds voortduur.

Eskom beweer dat hy voldoende voorraad diesel het vir sy bystand opwekkers, maar die kragverbruik in die land hou die vermoë op sy maksimum vlakke en versoek verbruikers om spaarsaam te werk met krag tot die instandhouding program afgehandel is.

Eskom hou die deur oop dat beurtkrag wel toegepas kan word indien “onvoorsiene breekskade” opduik wat die totale kraglewering kan beïnvloed.

In Januarie neem die nuwe Uitvoerende Hoof, Andre de Ruyter, sy plek in by Eskom, maar sy hoof opdrag is om die bankrot entiteit te ontbondel in minstens drie afsonderlike entiteite terwyl hy moet rekening hou met die werklikheid van ’n R450 miljard skuldlas.