Dief steel 20 ton sjokolade

In Oostenryk het ’n dief daarin geslaag om 20 ton sjokolade ter waarde van €50,000 te steel toe hy die Milka fabriek oortuig het dat hy die koerier is wat die vrag moet wegneem.

Alhoewel dit ’n vreemde voorval in Oostenryk is, sê ’n polisie woordvoerder die soort misdaad kom al meer na vore en gee rede tot ernstige kommer.

Die dief was so oortuigend in sy aanslag, dat die fabriek die 20-ton vragmotor met sy vrag aan die vreemdeling toevertrou het. Aanvanklik is ’n plaaslike maatskappy genader om die vrag te vervoer van Oostenryk tot in België.

Die fout het blykbaar ingesluip toe die maatskappy die kontrak oorgedra het aan ’n derde instansie, wat ’n Tsjeggiese burger gehuur het.

Later het die Tsjeggiese kontrakteur opgedaag, net om te verneem dat die vrag reeds deur iemand anders hanteer is, waarna die werklikheid tot die fabriek se senior personeel deurgedring het.

Die vragmotor en sy vrag het spoorloos verdwyn, en die polisie se soektog het niks opgelewer nie.