Die Skepping is Genade

Alreeds die eerste woorde in die Bybel – in die begin het God die hemel die hemel en aarde geskape (Gen. 1: 1) – ons hoor die genade van God.

Die bestaan en voortbestaan van die ganse skepping – dit is alleenlik op grond van God se genade. Niks wat is en wat bestaan, verdien om te wees nie – niks nie – van die kleinste tot die grootste – hulle het niks gedoen om hulle bestaan en voortbestaan te verdien nie.

Dit is veral in die Psalms waarin hierdie genadedaad van God besing word. Ons hoor onder andere in Psalm 2: “o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele.” (vers 2). En ook: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U berei het – wat is die mensekind …?” (vers 4).

Die ganse skepping deel in hierdie genade van God. Die ganse skepping – wetend en onwetend – belydend en nie-belydend – goed en sleg – ontvang hierdie genade en leef onder hierdie genade – om te kan bestaan – om te kan wees – om te kan lewe.

Dit is soos die Woord leer dat God dit oor die goeie en slegte laat reën. En dit begin alreeds daar waar God sê: “Laat daar lig wees.”  Hier alreeds leer ons Hom ken as die God van genade – dat Hy laat wees en gee sonder verdienste.

Wat sal gebeur as God sy genade terugtrek? ‘n Mens sidder om net daaraan te dink. Dit sal wees soos voor die begin van alles. Ons loof en prys en dank Hom vir sy genade.