Britte veg verkiesing, nie Brexit

Op dieselfde dag as wat die Britse Eerste Minister die Verenigde Koninkryk uit die Europese Unie sou lei, het die Britte kennis geneem dat hulle op 12 Desember na die stembus moet gaan.

Boris Johnson se herhaaldelike versekering dat lidmaatskap van die EU op 31 Oktober finaal beëindig sal word, het toe nie waar geword nie, en moes hy sy laaste troefkaart speel in die hoop om ’n sterk meerderheid te behaal in die verkiesing sodat hy op 31 Januarie 2020 die uittrede kan bewerkstellig.

Die premier het op ’n vreemde manier ook sy vorige fout probeer herstel deur die meer as 20 parlementslede van sy party wat geskors was, terug te bring in die party om te verseker dat hy ’n redelike meerderheid kan behaal.

Vroeër het Johnson ’n aantal partylede geskors wat in die parlement teen sy Brexit plan gestem het, en daarmee sy klein meerderheid in die parlement verder laat krimp tot ’n situasie waar hy nie ’n volledige meerderheid kon monster nie.

Sy grootste voordeel is waarskynlik dat die opposisieleier, Jeremy Corbyn, beskou word as die swakste leier wat die Arbeidersparty nog gehad het in die afgelope 30 jaar.