Bolivia eersdaags na stembus

Bolivia se tussentydse regering het ’n wetsontwerp ingedien wat die weg baan vir die hou van ’n nuwe verkiesing om die opstand en straatgeweld te beëindig.

Sedert die eerste opstand het die geweld toegeneem onder die woedende skare, en is daar reeds 32 mense gedood terwyl honderde beseer is.

Opstand in die hoofstad La Paz het die middestad ontoeganklik gemaak vir werkers en kliënte wat hulle inkopies wou doen.

Die wetsontwerp sal in die komende week ter tafel geneem word deur die twee Kamers van die parlementêre stelsel om gedebatteer te word, met die hoop dat dit uiteindelik deur die tussentydse regering deurgevoer kan word.

Bolivia word gereken as een van die meer stabiele lande in Suid-Amerika, maar die afgelope tyd het dit ontaard nadat woedende kiesers die vorige president van verkiesingsbedrog beskuldig het.

Die voormalige president, Evo Morales, wat bedank en die land uit gevlug het, was vir 14 jaar aan bewind, maar het glo tydens die vorige presidentsverkiesing verkiesingsbedrog gepleeg.