Bloomberg wil Trump oorwin

Michael Bloomberg

Die toetrede van Michael Bloomberg as kandidaat vir die Amerikaanse presidentsverkiesing kom nie as ’n verrassing nie, want die voormalige burgemeester van New York het reeds vroeër die moontlikheid oorweeg.

Bloomberg, die miljardêr, was eers ’n Republikein, later het hy as onafhanklike die stad se burgemeester geword, en nou is hy ’n Demokraat wat President Trump die stryd wil aansê

Voor hy die stryd teen Trump aanpak, moet hy eers die Demokrate wat tans in die wedloop is as kandidate, die loef afsteek, en dit beteken hy moet ook die voorloper van die Demokrate, Joe Biden, kan oorwin.

Die vreemde benadering om op so ’n laat stadium toe te tree, tel beslis nie in Bloomberg se guns nie, en sy meer gematigde siening oor politiek, kan ’n verdeeldheid onder die Demokrate veroorsaak.

Bloomberg se span sê hy gaan eers in Februarie en begin Maart sy eerste groot vertonings lewer, en beplan om sowat $30 miljoen te spandeer aan TV programme vir sy eerste week se veldtog.

Dit is ’n ongewone manier van optrede, maar kenners meen dit kan dalk werk om hom die nommer een kandidaat van die Demokrate te maak.